Sleutels tot sukses
Die geheim van ons sukses word grootliks deur ons daaglikse agenda bepaal. Goeie besluite wat ons vandag neem, sal aan ons ’n beter môre gee. In John Maxwell se boek, Today Matters, stel hy 12 beginsels voor wat ons daagliks moet bestuur en wat ons kan help om ’n vervulde, gebalanseerde lewe te lei. Ons behandel drie van die beginsels hieronder.
1. Vandag se gesindheid gee my moontlikhede (Fil. 2:5)
Jou gesindheid aan die begin van ’n opdrag of projek bepaal meer as enigiets anders. Die uitkoms daarvan bepaal jou gedagtes op die feite, nie op jou gevoelens nie, en fokus dan op die moontlikhede en nie die probleme nie. Ons gesindheid bring vreugde, en nie net dit wat ons bereik nie. Ons gedagtes sal altyd belangriker wees as die dinge in ons lewens. Meer nog, ons gesindheid teenoor ander bepaal dikwels hulle gesindheid teenoor ons. Ons gesindheid is ook aansteeklik.
Besluit: Ek sal ’n positiewe gesindheid behou en dit gebruik om ander te beïnvloed. Ek sal elke dag die nodige veranderinge aan my gesindheid maak sodat dit in lyn is met God se Woord.
Neem verantwoordelikheid vir jou gesindheid en verander die manier waarop jy na dinge kyk.
Besluit om die areas waarin jy ’n slegte gesindheid het, te verander.
- Dink, handel, praat en tree op soos die persoon wat jy weet die Here wil hê jy moet wees.
- Plaas ’n baie hoë premie op mense en verhoudinge.
- Begin om die klein dingetjies in die lewe te waardeer en dan sal jy ook die groot dinge en alles tussenin waardeer.
- Vind iets positiefs in alles – in elke situasie en in elke gesprek.
- Weerhou negatiewe woorde van jou woordeskat en spreek die Woord hardop uit.
- Spreek daagliks waardering teenoor ander uit.
2. Vandag se prioriteite gee my fokus (Mat. 6:33; Ef. 5:16)
Om ’n bietjie van jouself aan baie dinge te gee, beteken om ’n groot deel van jouself aan niks te gee nie. (Michael LeBoef).
Gefokusde aandag is een van die sleutels tot sukses. Om fokus te hê moet jy prioriteite reg verstaan, aangesien jou prioriteite bepaal hoe jy jou tyd bestee. Tyd is ons waardevolste besitting en is belangriker as hoe ons byvoorbeeld geld spandeer. Swak geldbesteding kan dikwels herstel word, maar wanneer ons tyd verloor, is dit vir ewig verby. Ons kan nie tyd verander nie, slegs ons prioriteite. Aangesien ons nie tyd kan verander nie, moet ons ons benadering tot tyd verander. Fokus jou aandag op die belangrikste 20% van al jou prioriteite en jy sal ’n 80% opbrengs op jou moeite ontvang. Die kuns om wys te wees sluit in die kuns om te weet wat om oor te sien.
Besluit:
- Ek sal my prioriteite regkry en my fokus en energie gee aan daardie dinge wat die hoogste opbrengs vir God se Koninkryk sal gee.
- Evalueer jou prioriteite elke dag aangesien omstandighede gedurig verander.
- Beplan jou tyd en dag noukeurig en volg die plan na.
- Delegeer waar nodig.
- Kry ’n waardevolle doelwit om voor te lewe.
- Doen werk wat jy geniet.
3. Vandag se gesondheid gee my krag (1 Kor. 6:19-20)
Jou gesondheid beïnvloed jou emosioneel, intellektueel en geestelik. Gesondheid bepaal dikwels die kwaliteit en kwantiteit van lewe. Dit is makliker om goeie gesondheid te behou as wat dit is om dit weer terug te kry. Ons is baie keer so gejaag en besig ... iemand sê: “al wen jy die rotresies is jy nog steeds ’n rot”. Vind eerder jou pas in die lewe en behou die balans – nie te stadig nie, want dit kan in luiheid ontaard, en nie te vinnig nie, anders kan dit tot uitbranding lei.
Besluit:
- Ek sal goed na my liggaam kyk deur gesonde gewoontes en balans in my lewe te handhaaf. My liggaam is ’n tempel van die Heilige Gees.
- Eet reg en oefen reg.
- Lag baie!
- Hanteer spanning effektief.
- Onthou dat ouderdom nie saak maak nie.
John Maxwell, Today Matters
Versterk deur suiwer Bybelse lering
Leierskapsontwikkeling – ’n kritieke behoefte in die Kerk in Afrika
