Leierskapsontwikkeling – ’n kritieke behoefte in die Kerk in Afrika
Bekele Shanko is in ’n Etiopiese gesin op die platteland gebore. Bekele se pa het die duiwel aanbid, alkohol misbruik en sy drie vroue mishandel. Op vierjarige ouderdom is Bekele amptelik aan Satan opgedra vir ’n leeftyd van diens aan hom en om sodoende in sy pa se voetspore te volg.
Maar God het ’n ander plan vir Bekele se lewe gehad. Met geen kerk of Christengetuienis in sy omgewing nie, is Bekele deur ’n reeks wonderlike gebeure tog aan die boodskap van die Evangelie blootgestel. Hy is deur die lewende Christus verander en word tans kragtiglik deur God gebruik om hoop en genesing in Afrika te bring. Ten spyte van sy skerp intellek en dappere geloof, is Bekele ook diep nederig en afhanklik van die Here wanneer hy ondersoekende vrae stel en sy diepe hartsverlange uitspreek om as Christenleier te ontwikkel.
Om hierdie rede plaas TWR klem op die belangrikheid van leierskapsontwikkeling in die toekoms. Ons is bevoorreg om betrokke te wees by die versnelde ontwikkeling van leiers wat dissipels van die nasies sal maak. TWR is vasberade om saam met die Kerk wêreldwyd hande te vat om aan behoeftes soos dié van Bekele aandag te skenk en ’n generasie Christelike leiers op te lei om die hele Evangelie aan die hele wêreld te bring.
Huidige leierskapsontwikkeling en kerkplanting in Afrika
Leierskapsontwikkeling
TWR saai in Zimbabwe ’n program met die naam Tools for Wise Leadership uit, wat deur Phineas Dube vervaardig word. Phineas het as hoërskool-leerling ’n Bybel ontvang en was verstom deur die wysheid van God in teenstelling met die “wysheid” van die wêreld. Hy het begin bid dat die Here hom goddelike wysheid sal gee.
Dekades later, wanneer mens nou na Phineas se besondere begrip van die lewe luister en sien hoe God hom nie net in Zimbabwe nie, maar ook internasionaal in lering gebruik, is dit duidelik dat die Here sy gebed beantwoord het. Ten spyte van die politieke en ekonomiese uitdagings van die land wend baie inwoners hulle na die Here.
Baie luisteraars spreek hulle dankbaarheid oor die program uit. Die algemeenste versoek is om die boodskappe in skriftelike vorm te ontvang sodat hulle die waardevolle inligting met ander kan deel.
Cross Roads
TWR het ’n vennootskap met die South African Theological Seminary aangegaan ten einde dissipelskapsprogramme te vervaardig om pastore in Afrika op te lei. TWR beplan om in Junie die eerste van ’n reeks programme genaamd Cross Roads uit te saai. Van die temas in die reeks is “Grounded in God”; “Reflecting Jesus”; “Jesus’ life and legacy” en “Growing in God”. Die programme is in Afrika-Engels en is gemik op predikers en kerkleiers wat nie toegang tot ’n Bybelskool of formele opleiding gehad het nie.
TWR-SA in vennootskap met Mentorlink International
TWR-SA het in konsultasie met Mentorlink International ’n vennootskap gesluit waar Mentorlink opleiding verskaf oor die proses en beginsels van mentorskap, terwyl TWR die radiokomponent daarvan sal ontwikkel. Die projek voorsien om kerkleiers en leraars bymekaar te bring en hulle bloot te stel aan die konsep van ’n dienende leier, soos wat ons Here Jesus geleer en toegepas het.
Sommige van TWR-Internasionaal se prioriteite om kerkleierskap tot en met 2010 te ontwikkel:
- Om 4000 radiokerkpakkette per jaar onder gemeente-netwerke in China te versprei, ter aanvulling van die 66 500 pakkette wat reeds versprei is.
- Om Christengelowiges wat van ander godsdienstige agtergronde kom en in vyandige omstandighede woon, te ondersteun. Dit is noodsaaklik vir die verspreiding van die Evangelie na hierdie belangrike bevolkingsgroepe.
- Om voort te gaan met die uitsendings van leierskapsprogramme in China en om soortgelyke programme vir Indië, Viëtnam en die groot stedelike gebiede van Latyns-Amerika te vervaardig.
- Om grondige programme oor dissipelskap na Persies-sprekende lande uit te saai.
- Om nuwe Evangeliese programme in agt tale aan nie-gelowiges in Afrika en die Midde-Ooste uit te saai.
In Februarie dié jaar het TWR-SA as gasheer opgetree tydens die opleiding van 23 leraars in die volledige Mentorlink-program. Daar is toe saamgestem dat daar ’n groot behoefte bestaan aan ’n 30-minuut radioprogram om die proses van mentorskap te bevorder. Die inhoud van die program behels lering en dramatisering van die materiaal, terwyl inbel-geleenthede en besprekings ook ingebou sal word.
Kerkplanting
Na sowat 35 jaar van radio-uitsendings in Afrika, kan TWR steeds getuig van dit wat die Here deur kerkplanting en die verandering van algehele gemeenskappe d.m.v. die Evangelie doen. Ter voorbeeld, in Mosambiek met sy 17 miljoen inwoners is die 2,8 miljoen Lomwe-sprekendes van die Zambezi-provinsie van die armste groepe in Afrika. Hulle werk hard vir ’n karige bestaan vanuit landbou.
Hoe het dit dus gebeur dat daar vandag meer as 350 groeiende en ontwikkelende kerke onder die Lomwe is? Die antwoord kan gevind word in die wonder van Christelike radio. In die eerste vier jaar van die Lomwe-uitsendings is meer as 50 kerke deur hierdie radioprogramme geplant. Ons loof die Here vir Sy grootheid!
