Redaksioneel
Geagte Vriend
Gesonde kerkleierskap is van kardinale belang aangesien dit grootliks die prioriteite en lewensvatbaarheid van ’n kerk bepaal. Die Kerk in Afrika groei inderdaad, maar het dinamiese leierskap nodig wat op ’n vaste Bybelse fondament rus, met ’n ware begrip van God se mandaat vir die Kerk van Jesus Christus. Om hierdie rede is Christelike leierskapsontwikkeling een van TWR se oorhoofse fokusareas. Ons het dié uitgawe aan hierdie belangrike saak opgedra en wil u ook graag bemoedig om meer doeltreffend vir Sy Koninkryk te wees.
Almal van ons strewe na sukses in ons lewens. Soms het ons die verkeerde idee van wat sukses is. Hier is ’n paar sulke mites:
Ons glo sukses is gelyk aan produktiwiteit, daarom werk ons daarvoor. Te harde werk kan egter lei tot uitbranding of gebroke verhoudinge.
Ons glo sukses kom deur geleenthede, daarom wag ons daarvoor. “As dit maar net wou ...” Wanneer ’n geleentheid wel kom, is dit gewoonlik te laat om daarvoor voor te berei.
Ons glo sukses kom deur verbintenisse, daarom netwerk ons daarvoor. Ons sê: “Dis nie wat jy weet nie, maar wie jy ken.”
Ons glo sukses is ’n gebeurtenis, daarom skeduleer ons daarvoor met konferensies, seminare, opleiding ...
Die geheim van ons sukses word eerder bepaal deur ons daaglikse agenda, gesien vanuit ’n dinamiese en groeiende verhouding met Jesus Christus. Wanneer ons prioriteite in lyn is met dit wat God van ons verwag, sal ons deur Sy krag en genade sukses behaal. Matteus 6:33 is van kritieke belang wanneer ons prioriteite bepaal. Alles wat ons doen moet Sy Koninkryk dien!
Mag u groot sukses behaal deur ons Here Jesus!
Vriendelike groete
Danie du Preez
(Nasionale direkteur, TWR-SA)
Versterk deur suiwer Bybelse lering
Een van die uitdagings wat die Kerk in Afrika die hoof moet bied, is die gebrek aan suiwer Bybelse lering vir predikers en leraars. Baie kerkleiers word gevolglik die prooi van oppervlakkige teologie en vals leringe, wat dikwels subtiele variasies van die Woord van God is. ’n TWR-luisteraar in Botswana skryf hieroor:
“Ons is ’n uitgeweke gesin van sewe wat in ’n geslote diamandmyndorpie van ongeveer 14 000 mense in die sentrale deel van Botswana woon. Dit is ’n welvarende dorp in vergelyking met ander dorpe en nedersettings in Afrika. Hier is geen bedelaars op straat nie en die mediese sorg is uitstekend. Omtrent almal het goeie behuising en baie mense besit hul eie voertuie. Die diamandmyn sorg goed vir hul werknemers.
In teenstelling met die materiële welvarendheid van die dorp is die geestelike armoede van die mense wat hier woon skrikwekkend. Daar is min Christene hier wat werklik in die Bybel glo. Daar is wel ’n paar kerke, maar die meeste van hulle, indien nie almal nie, leer onsuiwer dogma. Valse lering kom algemeen voor en ek dink baie kerkgangers glo slegs dat die Here hulle maar net gesond en ryk wil hê en hulle wil laat goed voel oor hulleself. Daar is omtrent geen plek waar mens kan gaan om lering in die waarheid van God se Woord te ontvang nie, terwyl valse lering oral voorkom. Of dit nou kom van sogenaamde Christelike satelliet-TV, boeke, of “’n man van God” wat gou die dorp met wonderwerke kom besoek, het hierdie leringe inderdaad die Kerk verswak.
“Ons gesin word versterk deur die suiwer Bybelse lering van programme oor TWR soos Grace to You, Thru the Bible, Unshackled, Love Worth Finding, en nog ander.
Omdat daar geen kerk is wat ons kan besoek waar die Bybel regtig geleer word nie, word ons spesifiek op Sondae bemoedig deur Bishop Joe Bell en Truth for Today. Op die meeste Sondae kom ons in die sitkamer by.
mekaar om na ’n preek te luister, die Bybel te lees en saam te bid. Ons satelliet-dekodeerder word uitsluitlik gebruik om na TWR te luister.
Ons beplan om volgende maand gereeld met ’n ander Christelike gesin op die dorp vir Bybelstudies en dienste te ontmoet.
Bid asseblief dat God ons sal lei om doeltreffende getuies vir Hom hier in Orapa te wees. Ons is baie dankbaar vir hierdie skakel met ander gelowiges in die wêreld wat die Here aan ons gegee het. Dit is wonderlik om u elke dag in ons huis te mag hê. God seën u elkeen.”
Leierskapsontwikkeling – ’n kritieke behoefte in die Kerk in Afrika
